Geskiedenis
Swellendam
Swellendam is geleë in die Overberg aan die voet van die natuurskone Langeberg. Die dorp is 240 km vanaf Kaapstad en 220 km vanaf George. Swellendam is die derde oudste landdrosdistrik in Suid-Afrika. Dit is gestig in 1745 as ʼn onder-landdrosdistrik om die landdrosdistrik van Stellenbosch kleiner te maak. Hierdie gebied het al hoe meer uitgebrei aangesien al hoe meer boere weggetrek het van die Kaap en hulleself verder oos van die Hottentots-Hollandberge gevestig het. Hierdie gebied is genoem “de Colonie in de Verre Geleegene Districkten”.
Die dorp is op 15 November 1747 gestig as die vyfde oudste dorp in Suid-Afrika en is vernoem na die Kaapse Goewerneur, Hendrik Swellengrebel, en sy vrou, Helena ten Damme.
Eers 53 jaar later, op 3 Mei 1798 is ʼn gemeente gestig en ds. J. H. Von Manger (foto hier onder) is deur die Goewerneur, Lord McCarthy, as eerste predikant aangestel. NG Kerk Swellendam is die sewende oudste gemeente in Suid-Afrika. Voor daardie tyd is die kerklike pligte in die distrik deur sieketroosters behartig en is die dienste in die Drostdy gehou. Vir doop en nagmaal, moes die lidmate egter na Stellenbosch of Kaapstad reis.
Die eerste rietdak kruiskerk is in 1802 gebou met die heer, Christoffel Koents, as bouheer. Hy het ook die preekstoel van stinkhout en geelhout met panele van kasuarishout-finering gebou.
Die gemeente het gegroei en die kerkgebou is in 1875 vergroot.
In 1909 is besluit om die ou kerkgebou te sloop om plek te maak vir die huidige kerkgebou wat in 1911 teen ʼn koste van 41,000 gulde of £7,500 voltooi is. Die argitekte was F.W. en F. Hesse van Kaapstad en die boumeesters, die firma Moon en Ledbury. Die inwyding geskied op 10 Julie 1911.
Die kerkgebou is argitektonies volgens ʼn eklektiese mengsel van boustyle beplan. Die gewels is Barok, die vensters Goties, die koepel Oosters terwyl die toring ʼn replika is van ʼn bekende toring in België is. Hierdie toring is gebou met die massiewe geelhoutbalke wat afkomstig is vanuit die eerste kerkgebou. Verder vertoon die gebou sterk Kaaps-Hollandse kenmerke.
Die kerk het sitplek vir 901 persone op grondvlak en vir 516 persone op die gallery.
Die ringmuur om die kerk en kerkhof wat ruim 700 grafte bevat, is in 1840 gebou. Die voorste muur is twee maal verskuif, maar die kiaathout voorhekke en die boogpoortjie by die pastorie ingang, is nog die oorspronklike.
Die Brereton grafkelder
Die oudste gegraveerde grafsteen in die kerkhof is deel van die Brereton-grafkelder. Die inskripsie lui as volg:
To the SACRED MEMORY
of
MARGARET ANNE BRERETON
Wife of LIEUT. COLONEL
THOMAS BRERETON
of the Royal African Corps.
Who departed this Life
ON THE
8th day of September
1818
AGED 29 YEARS
Die grafkelder is agter die kerk in die oostelike hoek teen die ringmuur. Thomas Brereton, ʼn Ier, is gebore in Ross County, Wexford in 1782. Margaret (gebore Coglan) was die dogter van ʼn setlaar in Wes-Indië. Hulle het vroeg in 1818 getrou en het op 10 Augustus in Simonsbaai gearriveer na ʼn bootvaart vanaf Engeland. Die Kolonel is op 4 September as bevelvoerder van die troepe op die Oos-grens aangestel. Vier dae later het sy vrou op hul reis daarheen by, of in die omgewing van, Swellendam gesterf. Sy is by hierdie kerk, die enigste in die Overberg-distrik, begrawe. J. Z. Moolman van Riviersonderend, ʼn diaken van hierdie kerk, was in bevel van die Swellendam Kommando in Grahamstad. Heel moontlik het hy namens die Kolonel toestemming verkry sodat sy eggenote, ʼn Engelse Protestant, in hierdie Hollandse kerkhof begrawe kon word.
Die graf van Ds. Cornelis Moll
Sy dienstyd: 1823 – 1832.
Op 11 Februarie 1833 is ds. Mol op ‘n jeugdige leeftyd op Swellendam oorlede. Soos die gebruik toe nog was, is hy in die kerk voor die preekstoel begrawe. Vandag vergader die gemeente êrens op die graf van die sesde evangelie-dienaar wat hulle bedien het.



